Die krag van broosheid in die huwelik

 
 

Een van die bestandele van ń goeie huwelik is om broosheid in die teenwoordigheid van jou lewensmaat te waag. Dit is daardie deel van jou wat die sagste, kwesbaarste is. Broosheid het ń element van waag, want in die sagtheid is jy ook kwesbaar. Broosheid is ook ń waagstuk, omdat jy nie gaan weet wat die uitkoms gaan wees nie. Jy kan nie in beheer wees en broos wees nie. Jy moet kontrole laat gaan. Pare wat dit waag met mekaar, ervaar konneksie en intimiteit. Dit voel soos verhouding, en nie twee individue wat saam ń huis deel nie.

Voorbeelde van broosheid is

  • Om eerste in te tree om kontak te herstel na konflik. Soos om die ander een se hand vas te hou, al is julle op ń ongemaklike plek.
  • Om te vra vir ń dialoog.
  • Om seks te inisieer.
  • Om te los waarmee jy besig is as die ander een by die huis kom en te gaan groet.

Om so met mekaar te kan besig wees, moet dit baie veilig wees in die verhouding. Dus as jou maat nie broos in jou teenwoordigheid is nie, is die vraag nie "wat is fout met my maat nie", maar eerder "wat doen ek om dit onveilig te maak vir my maat".

Esther Perel, skrywer van Mating in Captivity sê, "die hoogste uitdrukking van mag is vrywillige oorgawe".

As jy die magstryd wil wen, kies broosheid. Dit lei tot die hoogste vlak van intimiteit.

Kyk gerus die video hieroor van Brene Brown.