Om lief te hê, vir Altyd, na Valentynsdag

couples-painting-WebArtFebruarie is die maand waarin die liefde gevier word. Ons probeer op allerlei maniere verstaan hoe Cupido se pyle werk. As hulle afgevuur word, hoekom hulle tref wie hulle tref.

Een van die bes bewaarde geheime oor die rigting van die pyltjies, is dat die liefde bring mense wat totaal verskillend is, bymekaar. Ons weet dit eintlik. Ons sê goed soos teenoorgesteldes trek mekaar aan. Tog besef pare nie die wonder hiervan nie. Byna deur die bank vertel mense vir my dat hulle huwelik kan nie werk nie, want hulle is te verskillend. Selfs in ons regstelsel is dit die grond van die egskeiding: onherstelbare verskille tussen eggenote.

Meeste mense dink die verskille tussen hulle is iets wat opgelos moet word. As dit nie opgelos word nie, dan het die huwelik misluk.

Tog sien ons in Imago teorie dat die verskille en die onoplosbaarheid daarvan, die grond is vir die huwelik, nie vir ń egskeiding nie. Nog meer, hierdie verskille is nie iets wat opgelos moet word nie, dit is iets wat gevier en geleef moet word. Pare wat die vermoë het om die spanning van verskil te kan leef, transformeer.

Mens kan nou vra, Aggenee, moet mens heeltyd in die huwelik met spanning leef? Moet die huwelik nie tog die een plek wees waar jy ń maat het nie, ń geesgenoot waar jy kan rus nie? Wel, Cupido se pyle soek nie vir jou n rusplekkie nie, hulle soek iemand uit waar jy kan groei. Lewendigheid is belangriker as geluk in Cupido se korrel.

Om gelukkig te wees, moet jy dieselfde mense bymkaar bring. Maar daar is geen groei nie. Om te kan groei, moet jy verskil bymekaar uitbring.

Vier hierdie Valentynsmaand julle verskille. Elke mens is uniek. Jy is uniek. In plaas van om te kyk hoe jou maat se verskille ń irritasie is wat vermy of opgelos moet word, word lief daarvoor en word nuuskierig daaroor. Kyk hoe julle elkeen se uniekheid n kunstige rede is om bymekaar te wees en hoe julle ń kreatiewe span saam kan wees in julle verskille.

Dit is soos om na ń skildery te kyk. Mens sien nie ń groen streep, bruin kolle en geel blokke nie. Jy sien hoe die skilder met verskillende skakerings van kleure kunstig ń potret of natuurtoneel uitbeeld. Staan hierdie Valentynsdag terug, en kyk hoe die skakerings van julle unieke verskille, saam ń groter prentjie vorm.

Die naam van daardie skildery is lewe.

 

Bespreek vir 'n Imago Werkswinkel of Pare Intensief om jou huwelik van gewoon of vasgevang na kreatief en bewus te verander.