Die fases van ‘n verhouding Het jy al gewonder hoekom liefde soms wonderlik voel en soms asof dit een van jou ergste nagmerries is? Soms hoor ek mense sê: Die lewe is ‘n lied, ek het die liefde van my lewe ontdek! Soms sê mense: Ek het hard probeer, maar ek is nie gemaak vir verhouding nie. Dit werk nie vir my nie! Navorsing wys dat verhoudings beweeg in ‘n siklus.
Die beweging tussen nagmerrie en droom is normaal.
Alle verhoudinge begin met die verliefdheidsfase. Verliefdheid kan of ‘n uitbundige herkenning wees, of dit kan net ‘n rustige tuiskoms wees. In hierdie fase skop die Imago prentjie in en twee vreemde mense bind.
Na die binding beweeg pare oor na die magstryd. Die magstryd is ‘n plek waar julle agterkom: Ons is nie dieselfde nie. Jy is anders as ek. Aanvanklik is dit ‘n groot skok, want in verliefdheid was julle oortuig julle is dieselfde: dieselfde drome, ideale, hou van dieselfde vakansies ens. Maar skielik besef jy ons het elkeen ons eie realiteit. Een hanteer konflik met stilte en die ander een hanteer dit met geraas. Die een dink ons moet meer met vriende kuier, die ander voel dit moet net ons twee wees. In die magstryd is daar net een oplossing: Jy is verkeerd, en ek is reg. jy-isverkeerd . Dit word dan die magstryd: Wie is reg en wie is verkeerd. In die Imago teorie sien ons dat die magstryd is nodig en normaal. Dit is ‘n intelligente proses. (lees meer hieroor) Die magstryd kan ‘n stille ordentlikheid wees of dit kan intense gevegte wees.
Na die magstryd beweeg pare oor in die oorlewingsfase. Mens besef skielik ek gaan jou nie kry om soos ek te wees nie. Wat pare dan doen, is om vrede te maak met die ander een se stilte of geraas. Hulle maak ook vrede met hulle eie seer as gevolg hiervan. Hoe pare dit doen, is om kontak te begin verbreek en parrallel langs mekaar te leef. Wat terselfdertyd in die oorlewingsfase gebeur, is dat die gesprek, fokus en liefde van die verhouding verplaas word weg van mekaar na ander mense of dinge toe. Jy praat meer met die kinders as met mekaar. Die hond kry meer liefde as jou maat. Jy spandeer meer tyd agter die televisie as met jou maat. Dit kan oorgaan na verslawings toe en self ook na buite egtelike verhoudings toe. Dit alles laat die verhouding baie leeg. Dit is hier waar mense sê die “vonk” is weg of selfs ons het mekaar nie meer lief nie.
Indien die magstryd oorgesit kan word in dialoog, vorder pare na die bewuswordingsfase. Deur taal, kontak, veiligheid en commitment kan die huwelik se onbewuste agenda van heling en groei bewus raak. Pare wat bewus is, kan dan uiteindelik die werk van die huwelik doen en hulle beweeg oor in die transformasiefase. Die liefde is nie geinteresseerd om mense bymekaar te bring om net gelukkig te wees nie. Die liefde bring spesifieke mense bymekaar om heel te wees. Dit is hier waar die stil een weer kan leer om te praat sodat die alleen een kan geliefd voel. Dit is hier waar die chaotiese een leer om kalm te raak sodat die vasgevangde een kan vry en veilig voel binne kontak. As die veranderinge gebeur, kom die fokus, gesprek en liefde weer terug in die verhouding. Die verhouding begin lewe kry. Die mense (ook ons kinders) wat in die verhouding leef, voel weer geliefd, versorg en lewendig.
Passie, nuuskierigheid, versorging, kreatiwiteit en intimiteit word die kenmerke van die finale fase: die volwasse, bewuste verhouding. Dit voel netsoos die verliefdheidsfase, maar hierdie keer nugter en bewus. magstryd-siklusDit is so lekker, julle beweeg weer in die verliefdheidsfase in. ‘n Nuwe deel van lewe moet ontdek word en julle beweeg weer in die magstryd in… en so gaan die siklus voort. Hierdie siklus is anders as die siklus tussen verlief en magstryd. Hier word jy net bewus van die pyn, maar daar gebeur niks. In die volle siklus, word jy nie net bewus van die pyn nie, maar in die transformasiefase doen julle saam iets daaraan.
En pyn genees. In die onbewuste verhouding bly jy dieselfde temas oor en oor herhaal. In die bewuste verhouding is dit dalk dieselfde fases, maar splinternuwe, meer komplekse temas. Die huwelik word ‘n gesamentlike reis op ontdekking van self, ander en lewe. Imago terapie help pare om in bewuste, gesonde verhoudinge te leef