Frustrasies in die Huwelik en/of Verhouding kan met ons almal gebeur. JY kan dit nie verklaar nie: Hy het nie die lyf van ‘n Adonis of die voorkoms van
Brad Pitt nie. Hy is nie die slimste wat jy ken nie, ry nie ‘n nuwe motor nie en is
nie ‘n ster op die sportveld nie, maar hy maak jou knieë lam.
In sy geselskap sprankel jy. Jou hart klop vinniger, jou oë skitter, jou lyf sweef.
Die lewe is eensklaps ‘n towerwêreld; jou drome ken geen perke nie.
Is dit die een vir jou? Is dit liefde?
Kobus van der Merwe, ‘n verhoudingstrateeg van die Instituut vir dinamiek en
nuwe tegnieke in Johannesburg, het in sy soeke na ‘n bevredigende oplossing vir
verbrokkelde verhoudings en ‘n verklaring vir die ontwykende begrip liefde op
die imago teorie afgekom. ”As jy dit verstaan, sal jy weet hoekom daardie een
mens uit ‘n duisend jou aantrek, en as jy dit toepas, sal jy weet hoe om wrywing in
‘n verhouding tot groei te gebruik.
Die imago teorie gaan oor lewe en die versorging waarbinne dit afspeel.
Vandat ‘n baba in die baarmoeder is, word ‘n beeld van sy versorging by hom
vasgelê. Vergelyk dit met ‘n sebra. Nadat ‘n sebra gebore is, loop sy ma drie dae
lank om hom en al wat die vulletjie sien, is haar strepe. Wanneer ‘n trop sebras
aankom, soek die vul die strepe wat met die ingeprente beeld van sy versorger
ooreenstem.
‘So stoor die mens ook ‘n volledige stel indrukke van haar versorger: Hoe
glimlag hy, hoe klink sy stem, hoe lyk hy as hy wegstap, wat is die kleur van sy vel
as hy kwaad word. Dit gebeur onbewustelik, maar dis die prentjie waarvolgens ‘n
mens ‘n lewensmaat soek.
Versorging kan egter gebrekkig wees (te veel of te min), wat ‘n wond
veroorsaak. Jy kies dan onwillekeurig iemand wat die seer kan genees.’
Kobus het die geval genoem van die verantwoordelike hoofmeisie wat met ‘n
man trou wat gedurig ”speel”. Hy neem geen verantwoordelikheid, maar dis pret
om by hom te wees, want hy geniet die lewe met oorgawe. Wanneer hy egter
weens sy gebrek aan verantwoordelikheid nie ‘n werk kan behou nie, tree onmin
in en versuur die verhouding.
‘Verliefdheid (die agenda van die onbewuste) stel nie belang in jou geluk nie. Al
doel wat dit het, is om lewe te herstel. Die voorbeeldige hoofmeisie se wond was
‘n tekort aan pret, daarom het sy aangetrokke gevoel tot die plesierige man. Sy
seer was onverantwoordelikheid wat sy as voorbeeldige meisie kan heel.
Kobus sê ‘n mens vind vir seker aanklank by mense wat soos jy dink en doen.
Dis lekker in hul geselskap, maar omdat hulle gesond is waar jy gesond is, sal die
”chemie” ontbreek. Jy sal nie nagte wakker lê en na die mens verlang nie.
Nog ‘n voorbeeld is die van Kobus self wat as kind deur sy predikant pa en
dokter ma ”versorg” is wanneer hy hom akademies besig gehou het. Vir sy
liggaamlike behoeftes is nie veel genade betoon nie. As hy gekla het, is hy ‘n pil
gegee, maar as hy gelees, oordink en bevraagteken het, is hy geprys.
Sy vrou, Anita, se kinderlewe was presies die teenoorgestelde. Haar ouers het
gesê, ”jy is nog net ‘n kind, ons sal vir jou dink”. Maar geen moeite is ontsien
wat haar liggaamlike behoeftes betref nie.
Anita het tot my aangetrokke gevoel, omdat ek kan dink en ek haar moet leer
dink. Omdat sy weer ingestel is op liggaamlike behoeftes, gee sy boodskappe wat
ek as kind nie gekry het nie.”
Dit lyk miskien of die lewenslegkaart vir die twee mense pragtig in plek val,
maar so eenvoudig is verhoudings nie.
My eerste reaksie as Anita my aanpraat oor my lelike skoene of wat ek moet eet,
is nie opgewondenheid nie. Ek sien gevaar. Pleks dat ek van haar neem en sê
‘dankie, jy maak heel waar ek doodgegaan het’, sê ek,’ag nee, los my, ek is
tevrede soos ek is’.
Instinktief dink jy: ‘Ek het verkeerd getrou!’ Maar as jy regtig bewus is van die
prosesse van ‘n verhouding, sal jy weet hierdie mens roep jou terug tot lewe, al
maak dit jou bang.’
Daar is egter nog ‘n struikelblok. Die wat jou aantrek, doen niks effentjies nie,
sê Kobus. Anita het ‘n man getrou wat alles ontleed en bevraagteken. Die
oorverantwoordelike hoofmeisie trou met die ou wat net speel.
Die illusie van verliefdheid is dat jy dink julle kan saam die geheel van lewe
uitdruk. Twee jaar lank gaan dit inderdaad goed, maar dan breek die sewe jaar aan
waarin ‘n magstryd gevoer word.
Wanneer jy na die relatiewe tydperk van sewe swaar jare besef die liefde was ‘n
illusie, het die tyd aangebreek om die imago teorie toe te pas. Dit lei jou tot ‘n
volwasse verhouding, want dan besef jy jy moet self leer speel en hy moet self ‘n
verantwoordelikheidsin kweek. Julle kan dit nie vir mekaar doen nie.
Die mooi hiervan is dat die bloudruk vir groei in jou lewensmaat lê. ”Leer by
hom of haar; die voorbeeld is daar.
Kobus sê sy pa is geneig om hom met goeie bedoelings te versmoor. Anita het
dit aanvanklik ook gedoen, maar met die kennis van die imago teorie het sy geleer
om uit te reik sonder om hom te versmoor nie. Die proses het hom gewys hy
moet leer om nader aan mense te kom. ”As jy dit erken, kan jy lewe herstel.
Kobus glo jou kinderjare is nie ‘n verskoning vir waar jy jou bevind nie. Dit bly
net ‘n bewusmaking van waar jy moet herstel.
Jy gaan iemand soos jou ma en pa aantrek, en die mens gaan jou net so
wond. Dis die een helfte van die storie. Die ander helfte is dat hulle die leidraad
hou om die seer te genees.
‘Verhoudings is ‘n teelaarde vir baie frustrasies, maar dit kan weer die
towerwêreld van jul jonk wees word as jy ingestel is op die versorging wat jou
maat nodig het. Vra hom: ‘Hoe kan ek jou medisyne wees?’ So groei albei.